Sunday 3 February 2013

Boeredag op Vaalwater



My week het hier soos normaal begin, alles in totale chaos. Dinge wat gedoen moes word kom nie gedoen nie en die grootbaas blaas in my nek. Die sonskyn alweer verwoed vandag dink ek terwyl ek die sweet onder my hoed afvee. Hel ‘n stukkie wegbreek sal darem nou lekker wees. Miskien moet ek en Lanel somer so onseremonieel sonder om vir iemand te se net wegloop see toe. Ek herkou nog aan die gedagte toe dit my byval dat ek nog die bladman wil kontak oor die waardasie van ons tabak. My droom is moer toe geskiet deur die gedagte en gryp my foon en bel. Ons kuier lekker oor die weer die goeie reën wat ons gehad het en die te min reën op sy plaas. Ons praat twak en net so voor die afsluiting herinner hy my aan die boeredag te Vaalwater. Dêmmit ek het wragtig daarvan vergeet. Ons groet mekaar en ek besluit dat dit wel so klein breek kansie sal gee as ek gaan kyk wat die manne daar in die waterberge se wêreld maak. As kind het my oupa ‘n plaas gehad so 60km van Vaalwater af, so klein stukkie van my hart is maar in die waterberge. Ek kry niemand om saam te ry nie, so die een pak ek weer alleen aan. Soos gewoonlik moet ek eers alles tot semi halt roep op die plaas as ek wil weggaan, want anders gebeur daar in elk geval niks nie, so voor iemand skade maak, laat hulle liewers sit en niks doen nie. 
Die oggend reël ek my laaste rëelings en maak klaar om in die pad te val. Die alleen ry is nie te lekker nie, so ek sit maar voet in die hoek. Ek wissel tussen die verskillende stasies en besluit dan om eerder musiek te luister. My musiek smaak is maar divers enige iets van Linkin Park tot Radio Kalahari Orkes. Ek spring deur die musiek tot by my gunsteling lied van die Kalahari Orkes – Staan my By. Die wêreld is groen en die goeie reëns van die laaste paar weke doen die bosveld goed, ek sit terug en trap die lepel nog so bietjie harder. Op Thabazimbi stop ek en koop biltong, man so reg na my smaak, ‘n lekker stukkie vettjie en net klam genoeg, nie te nat nie, nie te droog nie.  ek vat die Ellisras afdraai bietjie stadiger as normaal, my waterwerke het begin moan, so ek trek af en steek sommer ‘n twakkie op, agter my lê die pad wat Sentrum, Rooibokkraal en Cumberland verbind, heng daai was darem nou ‘n lekker naweek op Rooibokkraal dink ek aan ons wegloop naweek so jaar of twee gelede. Ek druk my bakkie se neus weer in die pad vir die laaste stoot tot op Vaalwater. Aan my linkerkant lê die waterberge en hier en daar hang  miswolkies in die lug, my gemoed begin swaar lê hoe nader ek aan die dorp kom, die pad ken ek al van kind af. Ek sien dis nog vroeg as ek die dorp binnekom, die plek ver ander darem maar teen ‘n tempo wat skrik vir niks, nuwe winkels en stalletjies en dan die algemene verval wat net deur Afrika gedikteer kan word. Ek skiet deur die dorp en maak eers ‘n  draai by die curio shop.
Die boeredag vind vir ‘n vernadering by die Boere saal plaas, met die inry slag kan ek sien dat die plek maar net soos meeste boere sale in onbruik verval, die dae van groot feeste, danse en dan die half onbekende sanger nooi is verby. Die gras is gister geslach en aan die stand van die wat om die bome was kan ek sien dit moes nogal ‘n taak en ‘n half gewees het. Die saal moes op sy dag iets besonders gewees het. Twee vleuels aan die hoofsaal, die hoofsaal met sy plank vloere wat seker 10 jaar laas die nodige politoer gehad het en sy verhoog met die fluweel blou gordyne. Die linkerkant se vleuel is ‘n sinkdak afdak wat toegebou is met sement vloer, aan die regterkant sit die kombuis met eet area en ‘n klein konferensie lokaal of so lyk dit. Dit moes werklik ‘n pragtige plek gewees het, en ek kry so kort verbeeldings vlug van hoe daar gedans en gekuier is in daardie saal.
Nou kyk ons boere is nie ‘n volk op ons eie nie, nee ons is ‘n spesie op ons eie, ek dink as Charles Darwin sy navorsing moes doen op die boere nasate dan sy hy nie net sy “Origin of Species” geskryf het nie hy sou die “Origin of ‘n Boer” geskryf het. Ek dink nog steeds daar is ‘n spesiale plekkie in die Hemel vir boere, want plant sal ons altyd wil plant, al brand die son die hel uit ons uit en spoel die reën alles weg. Ons is seker die mees snaakste mense om na te kyk, as ons baklei dan baklei ons, ons is omgekrapte, bevoeterde,muslike en ongeskikte mense as jy ons nie ken nie, ons is ‘n familie en buitestanders word maar snaaks aangekyk. Onder al die bravade van oorkook, en kwaad word, moet ek ook bieg, ons is sagte mense, ons harte kry gou seer as iemand anders seer het en swaarkry, ons ken ons kerk en ons Bybel, want ons weet sonder God kan jy nie boer nie. Ons is lief vir die natuur daarvandaan ons klein harte. Nou ja dis die boer opgesom in ‘n neute dop.
Nou moet jy lief verstaan, die bosvelders is anderste boere as die ander boere. Hulle is stoere mense, mense met oop harte en jy gaan krap nie waar dit jeuk nie. So daag ek op by die vergadering, my bangels om my arm, First Accent hemp wat uithang, kort kakie broek en cattepilar skoene, my kouse sit op my enkels. Die eerste manne wat ek groet kyk nie vir my nie hulle kyk vir my bangels dan kyk hulle my op en af. Ek kan die vraag in hulle gesigte lees, hy praat tabak soos ons, hy dink soos ons, hy stink soos ons. Magtig waar kom die kind vandaan. Nou ‘n boere dag het sy formaliteite, eers is dit die opening wat almal verveel, maar doen jy dit nie dan daar moeilikheid, dan begin die hofverrigting na ‘n paar worsrolle en ‘n bier of twee. Ons volg die lesings aandagtig en word so halfpad deur dan verveel. Die volgende item op die lys is land besoeke, dit is waar die pret begin. Nou kyk ‘n land besoek is baie belangrik, dis hier waar die voorligters moet bond staan asof hulle reg is vir Cowboys en Crooks, want die manne pepper die vrae soos masjien geweer skote, en behoed sy siel as sy antwoord nie na hulle smaak is nie.Elke nuwe tabak soort word deeglik ondersoek bevoel,bevat en bekyk, jy kan hulle amper inskryf vir ‘nTeasers kompitiesie. Die tweede deel van die land besoek is gewoonlik waar die chemiese proewe gedoen word, hier raak die manne stiller, wys net hier en daar verskille uit, as jy hier traai slim wees gaan jy nie weet of jy kom of gaan as die manne met die wit jasse eers hulle gekompliseerde formules begin uithaal nie. Die eintlike deel van die boeredag waarvoor almal kom, is die afsluiting. Die Braai soos dit bekend staan. Nou dis hier waar die manne litte losmaak, die pype opsteek  en bier nader trek en laat waai. Dan kuier ons as familie, raad word uitgeruil, politiek word in erns bespreek, die voorligters word vergewe vir hulle swak antwoorde en daar word gespot en gelag. Die ou stories word uitgehaal en die dinge wat aangevang is deur die jaar word vertel.
Laatnag as die maan al gaan skuins lê verkas ons so een, een terug huis toe, elkeen met sy manier en ons weet as ons wegry, jy is nog steeds en sal altyd ‘n boer bly.

No comments:

Post a Comment