Hierdie is die laaste van my skryfstuk oor India, hoop julle het dit geniet.
Kolklatta na Delhi – SHUT THE F$#@ UP
Luuksheid na swaarkry! |
Oppad Huistoe, Delhi Lugahwe, onwettig geneemde foto! |
Kontras |
Lanel se maag hou goed, net as haar maag dink hy wil
suid draai stop ek nog ‘n immoduim in haar keel af. Met ons aankoms op die
stasie is sy so goed soos ‘n lopende apteek. Die stasie bied darem ‘n
lugversorgde afdeling vir die wat in besit is van eerste en tweedeklas
kaartjies. Ons maak gebruik van die geleentheid en plak neer soos vrot velle op
die twee beskikbare stoele.
‘n Halfuur voor ons trein vertrek gaan soek ons, ons
sitplek. Na ‘n geskarrel en armswaai en gebrabbel in Engels kry iemand ons
jammer en gaan wys ons waar ons sit. Tot ons skok is ons plekke opgeneem deur
‘n gesin. Gelukkig maak die kondukteur sy keelskoon en almal maak pad. Ons
begin ons plekkies voorberei en lief vat soos gewoonlik die boonste bankie. Ons
maak ons beddens op. Vannag wil ek deurslaap. Ons deel die 4 man kompartement
met ‘n ourige stil man en ‘n jong man met brille, die het vriende gemaak met ‘n
dik gat aan die oorkant en hulle kuier, dis vroegmiddag so dit pla nie. Ons kry
ons ete, lief sien nie kans vir die warm kos nie en probeer so bietjie slaap.
Ek gaan doen inspeksie van die toilette en vind dat eersteklas sin soos
gewoonlik in baie beter en gangbare toestand is. Ons geluk is dat dit reg voor
ons trein trok is so in ‘n nood situasie kan lief net hol en sy sal dit betyds
maak. Ek stap terug na ons kompartement en vind die dik gat en sy maer gat met brilletjies
nog steeds aan die kuier. Die ou man sit tjoepstil in die hoek en sprak nie ‘n
woord nie. Ek gaan soek roo kplek, en alhoewel rook onwettig op treine in india
is steur niemand hulle aan die reël nie, jy maak net die trein deur oop en maak
jou twakkie. Ek maak soos ek gewoond is en gooi die deur oop, langs my flits
die nag landskap en liggies verby en ek geniet die warm lug wat van buite af
inkom. Die volgende oomblik spring daar so kort mannetjie in uniform om die
hoek en dinges my uit oor ek die deur van die trein oopmaak terwyl dit beweeg.
Ek gee hom som kyk, verduidelik vir hom in Afrikaans dat ek nie veel van sy dreigemente
dink nie en trek my twakkie verder. Die opgeskorte klein mannetjie dreig weer. Hy laat my dink aan my sussie se oorlede
dobberman pincherkie, oorle Frikkie. Ek lag vir hom terwyl ek die deur toemaak
en se vir hom dat ek nie omgee wat hy se nie terwyl ek in die gang af verdwyn.
Dikgat en sy maat is stil toe ek terug kom in die kompartement, dankie tog nou
kan ek slaap, ek maak vir oulaas seker dat Lanel reg is voor ek ook wegvaar na
droomland.
My oë was skaars toe of
die twee nuut gevinde vriende begin op ‘n hoer as normale toon weer eenstryk
kuier. Ek strip my moer toe vir die twee, beteken ‘n toe gordyn nie vir hulle
iets nie. Ek trek myself so half regop en laat waai.”You are the most disrespectful people I have ever
seen, some of us are tired and are trying to sleep. My wife is sick, and I
don’t want to hear another word from you two. If you don’t understand what I am
saying, shut the F#%^ up. Ok.” My stem toon draa deur die trein en
vir ‘n oomblik kon jy net die gerammel van trein wiele buite hoor, terwyl hier
en daar ‘n kop half bang en nuuskierig om die hoeke loer. So bogger ek hulle
nuwe vriendskap op en kry ons die nodige rus in vir die nag.
Delhi – Tot hier toe en
nie verder nie.
‘n Mens se Psige kan net soveel vat. Blykbaar
volgens die slim mense, wie se werk ek eens op ‘n tyd moes leer, het almal ‘n
toleransie vlak in sekere situasies, of so iets. Kan nie mooi onthou nie want
ek was nie veel in die klas nie. Met ons aankoms in Dheli was beide my en Lanel
se toleransie punte ver oorskry. Ons nerwe was sommer plein klaar, nee hulle
was opgebruik, weg non exsistant. Geen normale mens sit homself vir 3 weke deur
hel en dan loop vertel hy vir mense dat dit lekker was nie, maar vir die een of
ander rede is dit lekker, ons gaan soek hierdie plekke straf onsself, liggaamlik
geestelik en word gedruif tot op breekpunt. Dan in ‘n oomblik van heldere waansinnigheid
besef mens dat dit reis is, en niks en niemand, geen pakket toer, geen vakansie
in ‘n huisie op Pennington gaan vir jou hierdie ervarings gee nie.
Ons laaste verblyf in India is die Taj Palace Hotel
5ster nogal. Lanel het in ‘n waansinnige oomblik iewers tydens die toer besluit
dat dit ons eindpunt verblyf sou wees. Die hotel is geleë in die diplomatic
enclave, en met die eerste oog opslag is alles skoon en netjies, ‘n kontras van
wat ons beleef het die afgelope twee en ‘n half weke. Die sekuriteit by die
hotel is om van huis toe te skryf en ou Zumsie sal wragtig hier gemaklik kan
slaap, dink ek terwyl ons deur die exstrale en bevoelings en bevatings gaan,
vir die duisendste maal. Ons word soos konings ontvang, en word op die hande
gedra tot op die 6de vloer waar ons kamer aangewys word. Magtig, dis luuks. Die
bed is sag, linne skoon en tv wat werk. Dis hier waar ek besef, soms moet ‘n
mens halt roep, al buig jou bank rekening agteroor, en sluk die bankbestuurder
‘n ekstra hart pil. Ons roep halt, en ons besef tot hier toe en nie verder nie.
Agterskrif en Naskrif.
Dis ‘n koel oggend as ons land op ORT., ons is
gatvol vir alles Indies, soek een stewige boere ontbyt, skoonpa gooi sy Land
Rover in rat en ons trek deur die verkeer soos mes deur botter. Die ontbyt by
die Wimpy maak so holkolietjie vol en vol blydskap neem die snelweg ons terug
na ons ou plassie buite Brits.
Terwyl ek hier voor die rekenaar sit vanoggend kyk ek
na die agter grond foto van die Taj Mahal, en iewers binne my kriewel daar ‘n
gogga. Dis tyd om te begin plan vir die volgende wegbreek. My koffie is al koud
as ek omdraai en weer voor die rekenaar kom sit. Die lewe loop snaakse draaie
met ons dink ek terwyl ek na Cecil Beaton se woorde kyk en terug dink. India
het iets binne ons verander, maar wat weet ek nie, sal dit maar moet gaan soek.
Miskien Timbaktu, Fiji, Borneo of Kenya.Of is dit al die mense wat ons ontmoet
het, maar iets het verander.
No comments:
Post a Comment