Monday, 18 February 2013

'n Boertjie se Travels: India, Hoe de Dinges.


Kolkatta –  The Indian Strikes Again

Herman Roos
Die Overlokker van Negentien Voertsek

Herman Roos
Dum-Dum Nagar 

Herman Roos
Ons en die Slumkids

Herman Roos
UITGESLUIT!

Herman Roos
DIE DAK!


Die australianer verlaat ons en ons en Rupak kuier, hy vertel ons van die grootste oopelug boek mark in die wêreld. Dit moet ons sien, want in India is sien is glo. Ek vertrou nog steeds nie die vrede nie. Die volgende dag druk ons deur alles en kry ons uiteindelik die boek mark soos beskryf en aangedui deur ons gawe gasheer. Dit is ‘n warboel van boeke, straat op en af, links in die straat dan regs in daai straat en dit hou net nie op nie. Ons soek die befaamde koffiehuis waar ouens soos Pallo Coelho gesit en koffie drink het, en meeste van India se politieke gesprekke plaasvind wat lei tot niks. Ons word omring deur ‘n littere arsenaal. Lanel koop die een boek na die ander en ek begin gewig uitwerk, dit is spotgoedkoop. Ons vergelyk pryse met die van hulle Suid Afrikaanse eweknie en besef dat party boeke ‘n tiende van die Suid Afrikaanse prys kos. Na ons gekoop en vergelyk het, besoek ons die befaamde koffiehuis en wag 5 Indiese minute vir koue koffie. Lanel besluit om vir oulaas in die strate in te wandel en ons spreek af om mekaar op ‘n sentrale plek te kry, ek soek mediese boeke maar die verkoper verstaan nie die term paramedies nie en ek gee op. My oog vang ‘n man op die kant van die straat wat suikerriet sap uitpers en ek sluit aan by die res van die hordes wat sap koop, ek neem my klei potjie vol van die soete sap en slaan hom weg, ek verduidelik met armswaaiende en amper aap streke en gebare dat ek nog soek en so slaan ek nommer twee weg. Ek bekyk die seremonie van hoe jy die kleipot moet stukkend gooi en doen ook die passie en gooi my pragtige halfvervaardigde kleipotjie kepletter teen die randsteen. In die skare van miljoene sien ek darem een bekende gesig en ek en my vrou sluit weer by mekaar aan. Ons wyf ‘n taxi na ‘n lang gesukkel af en verduidelik hom dat hy ons reguit moet neem na Dum-Dum Nagar. Die rut is nie koste besparend nie, maar spaar darem die nerwe so bietjie, en ons voel soos ambassadeurs in ons grand groen en geel Fiat Ambassodor. Die reën druppels val sporadies as ons onder die brug uitklim en ons, ons drome om ambassadeurs te wees agterlaat. Ons drink chai by die chai man onder die brug en wag. Die reën gee ons ‘n kansie, en ons drafstap terug tot by ons tuiste. Ons glip deur die hekkie tot by die voordeur net om te vind dat die gesluit is. In my geheue heroep ek ons Delhi debakel met ingesluit en nou uitgesluit. Ek spring op my foon met sy Indiese simkaart en bel. Niemand antwoord nie en al wat ek kry is die vrou wat in Hindi vir my probeer verduidelik dat die persoon nie beskikbaar is nie. Na 8 smse 20 oproepe en meer as twee ure se wag, en Lanel wat toegang by elke venster en moontlike gaatjie gesoek het, kook my moer meter, die naald het afgespring en iewers het die valves gekalf, die boer maak ‘n plan. Ek soek klippe nou donner ek ‘n slot stukkend, in tussen reën dit kort, kort en net as ek dink nou het ek iets sak die reën uit en word my poging gefnuik. Later kry ek ‘n bouer en verduidelik hom dat ek sy hammer wil leen om ‘n slot stukkend te kap. Die Babelse verwaring op sy gesig laat my in nog slegter Engels as my vriend se pappegaai praat, en die Babelse verwaring op sy gesig word groter, ag nee donner dink ek, gin wonder die toring van Babel het nie gewerk nie, en ek verstaan nou vir die eerste keer daardie spesifieke gedeelte duidelik. Ek strip my allreeds gestripte moer, en laat my moer meter nog verder oorkook en ek skel hom sommer in Afrikaans,” Nou vat jou hammer en druk hom in jou agterent op, gin wonder julle is waar julle is nie, want julle wil nie eers ‘n hammer vir iemand leen nie.” Ek stap terug en soek ‘n klip. Die wonderlikste van klippe is dat as mens een soek dan bestaan hulle nie, maar wragtag as jy nie klippe wil hê nie dan lê hulle die pad vol. Die reën sak weer uit en ek maak dit net betyds terug tot onder die halwe beskerming van die dakkie, liefie gee so halwe laggie en ek dink nie dis snaaks nie. Die 15de sms gaan uit en die 40ste oproep word gemaak. Intussen het my lugtyd opgeraak en ons wag. Drie ure later kom ons gasheer en al wat ek hoor is Lanel hier langs my wat se “Smile and wave, smile and wave.” Ek smile en wave en ons gaan lê. Aandete is welkom en ons eet weer chicken and egg role. Ek besluit dat ek nog nie die ou vergewe het nie en verkas terug kamer toe. Terwyl ek die trappe bestyg hoor ek hoe Lanel en ons gasheer die volgende dag se rëelings tref om die slums te besoek.
Deur die nag het my aggressie tot bedaring gekom en moes ek maar gedwee aanvaar dat dit is hoe dinge in india werk. The Indian strikes again. Ons is vroeg uit die vere en kry ons eerste koppie chai vir die dag. Dis Sondag, en op die heilige dag sal al wat stoere Suid Afrikaner Christen kerk toe gaan, dan die vure aansteek en ontspan met ‘n tjoppie in die hand. Hulle sal hulle middag slapie geniet, vriende gul ontvang. Ag nee vervies ek myself terwyl ek so staan en verlang na ‘n rustige Sondag op die plaas. Rupak begin vir ons ‘n uitleg gee van die slums en wat ons kan verwag. “If you don’t like what you see we will go back imediatly, this is not for the faint hearted and a lot of people have cried for two days nonstop, after seeing the slums.” Broer dink ek by myself, dan het jy nog nie ‘n squaterkamp in Suid Afrika beleef nie. Ons vat rustig die pad en ek tel die vliegtuie wat lui bo-oor ons kruip vanaf die lughawe. Rupak vertel die een storie na die ander en ek kyk meer om my as wat ek luister. Ons arriveer, en word met die tipiese kyke begroet van wat soek julle hier. Rupak se gerusstelling help nie veel nie. ‘n Paar kom aangestap en gee sulke vuil kyke wat net moeilikheid beteken. Reg hier kom stront, die man het ons nou mooi in die gat kant van Kolkata ingevat en die mense soek ons nie hier nie. Die paar word ‘n groep en stap eers verby terwyl hulle snedige opmerkings maak. Ek ken die manier, dis tipiese tsotsie styl van intimidasie, die volgende oomblik sal hulle ons af kordon en dan begin vrae, vrae, en wragtig twee waag dit nader. Ek maak reg want hier gaan ek nie meer stilstaan nie, my nerwe is klaar, ek dink nie hulle bestaan meer nie, hoop net die polisie hoof sal my goedgesind wees, ek klap nie, vandag steek ek met ‘n mes, ek voel, voel vir my leatherman, reg hier kom dit. Die gesprek tussen Rupak en die bende klink nie lekker te wees nie, ek verstaan nie Bengali nie, maar die toon van praat staan my nie aan nie. Uit die bloute verskyn ‘n man en almal geepad soos die see voor Moses. Hoofman oor ‘n duisend dink ek. Samshje praat net ‘n paar woorde en almal geepad stert tussen die bene. By sy huis gee hy ons ‘n inleiding van hoe hy die armstes gebruik en oplei as klere makers en wys ‘n paar kledings stukke, die masjinerie dateer uit negentien voertsek, ek staan maar eenkant terwyl Lanel die kledingstukke nagaan. Hy wys haar die toppies wat hy besig is om vir haar te maak, en dit lyk pragtig. Ons ontmoet sy uitgebruide familie terwyl ons op die dak sit en wag vir die slum kinders en word heimlik bederf met tradisionele Moslem geregte. Vanaf die dak kry ons ‘n uitleg van die slums wat nie veel beter as Atridgeville of Diepsloot lyk nie. Die kinders bestyg die dak en ek wil medies na hulle kyk. Dit word van die hand gewys en ons deel lekkergoed uit en neem foto’s. Ons besoek die slums en maak maar of ons geïnteresseer is. Ons het al veel erger gesien. Die toer word afgesluit en ons stap terug na die hoofpad om ons bus te vang, die keer sonder intimidasie. Terwyl ons terug stap, wys Rupak dit uit dat daar geen jong vrouens te siene was nie, en ons stem saam dat dit nogal opvallend was. Die afwesigheid van die jong vrouens is dat hulle ouers-hulle uitverkoop as sex slawe en dat naweke en sondae die beste tyd is. Ons sluk swaar aan die idee, hel dit is af man, al is ons gewoond aan slums in Suid Afrika, om jou 14jarige dogter te verkoop is net verkeerd. Ons besluit dat ons ten minste een Bollywood fliek moet kyk en darem die gevoel kry van hoe voel dit om tussen ‘n klomp Indiërs te sit en fliek. Die donkerte het oor Kolkata begin sak toe ons ietwat onseker die bus bestyg wat ons reg voor die fliek gaan aflaai. Dit reën kort, kort sulke bietjies, bietjies. Ons kry die fliek koop kaartjies vir die nuwe hit van Bollywood, Boll Bachan. Dis 2 ure voor die fliek begin en ons loop en soek ‘n redelike of darem naby ordentlike eetplek wat nie aan ‘n sypaadjie gekoppel is nie, ons kry iewers in ‘n straat ‘n plekkie en suig neer op die stoele, heng man tussen al die strooi wat daar buite is, is die plek darem netjies, lugversorging, skoon, en die diens is uitstekend. Ons geniet so iets tussen ‘n Chinese en Indiese gereg wat ons herinner aan sweet en sour chicken. Die prys is goed en vir minder as ‘n honderd rand eet ons onself knuppeldik. Ons stap vrolik en opgewonde terug, sien selfs uit na die fliek. Ons neem ons plekke in met popcorn en koeldrank. Die was nie halfpad in die fliek in nie of Lanel fluister vir my dat haar maag nie reg is nie, sy het reeds die badkamer besoek voor ons ingegaan het, maar alles was stil en rustig in die land van die kolon. Ek kry so benoude gevoelte in my, ag nee nie alweer Delhi-belly nie. Ons verstaan nie die fliek nie en besluit om maar die roete huis toe aan te pak. Na ‘n hengse gesukkel met taxi’s kry ons uiteindelik een wat bereid is om ons terug te vat teen ‘n redelike prys. “Lief daar is fout met my maag, toe ek daai popcorn eet, het dit my die selfde gevoel gegee as in Delhi. Dit het gevoel of ‘n klip my maag tref.” Dammit. Hier kom dit nou, ek bid stilweg dat dit nie is wat ons vrees dit is nie. By die laaste draai naby die huis kry Lanel so uitdrukking op haar gesig en ek lees die tekens, hier kom dit weer. Die nag gaan tussen badkamer en bed vir haar deur, en die volgende dag stel ons die besoek aan Moeder Teresa se huis en museum af. Die dag gaan maar kakkerig verby, ek loop rond soos ‘n leeu met ‘n seer tand en koop enige ding wat Lanel kan gesond maak. Later begin ek self die gesond maak goed gebruik net om my nerwe te kalmeer. Sy hardloop die pakkie cypro antibiotika wat vir my bedoel is deur, en ek besef dat as ek iets oorkom, daar nie veel hulp gaan wees nie, die medikasie sal heeltemal uitgedien wees na hierdie rondte. Lanel begin pak so tussen die hol en slaap deur en laat die aand bevind ek myself op die dak van ‘n huis in Kolkata.

Ek lister musiek op die tab kliphard en voel ‘n veer vir enige een wat kla. Wat maak ons nou? Daar lê ‘n hele 24 uur treinrit voor terug Delhi toe, sal Lanel dit kan maak? Ek verlang huis toe, ons finansies is skraps, terug vlieg gaan duur wees. Ek sit en wil, wil begin tjank, nee donner man wat te veel is te veel, nou het ek net mooi genoeg gehad van die kak land en sy mense, ek draai die volume op en luister na die Radio Kalahari Orkes se Staan My By. Ek kry so bietjie moed maar die trane lê vlak. Ek kyk uit oor die suburbia van Dum-Dum Kolkata, almal gaan aan met hulle roetine, niemand gepla oor die ander nie. Besef is ‘n bliksem, want hy bekruip jou soos ‘n ongedierte in die nag, en saam met hom kom sy skelm drinker broer Alleen. Die twee het weer in holle gaan speel en hulle visiere eers mooi ingestel op my, en daar vang hulle my op die dak. Die trane sit vlakker as voorheen, my vrou en travel maat is siek, sy lê plat, dinge begin einde se kant toe staan, is dit hier waar ek die besluit moet neem om die definitiewe halt te roep. Die punt waar ons omdraai en nie klaar maak nie. Ek mis my mense, ek mis braaivleis en pap, en vir die eerste keer is ek bang, doodbang vir wat voorlê. Ek is nie lus vir nog stasies en burokrasie nie. Al my bravade is weg en ek besef die patetiese situasie waarin onsself bevind. Teen 5 uur die volgende oggend begin dinge verbeter en Lanel sien kans vir die laasste trein rit. Ons vat die oggend rustig sodat sy haar krag kan bymekaar maak vir die uittog Dheli toe. Ons groet vir Rupak wat net so bekommerd is soos ek oor Lanel en met ‘n laasste kyk deur die taxi se agter ruit kan ek sien dat die groot glimlag verdwyn het, en dat ‘n nuwe vriend se bekommernis in sy hart gaan lê het. Ons kyk vorentoe en weet dat halt roep nie ‘n opsie is nie, dat ons moet klaarmaak wat ons begin het. En ek dink so by myself. Moedertjie Genade.

No comments:

Post a Comment