Tuesday 12 February 2013

'n Boertjie se Travels: India, hoe de dinges.


Agra: ‘n Dollar vir elke lieg storie.


Herman Roos
Ek voor Ons gaste huis in Dehli

Herman Roos
Lanel saam met Nathan rn Virgini.

Herman Roos
Ek saam met Nathan en Virgini


 Vyf uur kry ons die drywer en sy kar en begin die 4 ure lange tog na die Taj Mahal in Agra. Ek sit voor en gooi my kop agteroor en slaap vir so rukkie. Teen agt uur word ek wakker en bel dadelik vir Dokter Malik en vra hom om net na Lanel te gaan kyk. Ek voel nie goed nie, dis aaklig dat my vrou nie saamgaan nie en dat sy nog siek is ook daarby. Met die laaste opdragte aan Malik lê ek terug en slaap nog so rukkie. Iewers skielik stop die drywer by ‘n restaurant sonder om ons mee te deel. Ons staan vas buite en wyer om in te gaan. Ons wil Agra toe en nie nog tyd mors met die soort van strooi nie. Hy drink eers sy tee. Uiteindelik in die pad. Dit was nie lank nie of ons stop weer. Die keer by ouens wat ape op stokke vir jou laat dans en toertjies doen. Ek neem ‘n foto of twee, groot fout. Die man begin op die venster kap en se ek moet hom betaal. Ek ignoreer hom en hy begin later skreeu. Na 2 Indiese minute kom die drywer aangedrentel en val ons in die pad, ek met my aap foto’s en die aap eienaar sonder ‘n dooie sent. Tien uur kom ons uiteindelik in Agra aan, ons sien vlugtig die Taj Mahal in die ry. Dit is darem magies mooi dink ek, wens net liefie was hier. Ek bel weer vir Malik. Nee dit gaan goed met Lanel, sy is beter. Aah my yster vrou dink ek. Ons stop by ‘n plek en in gebroke Engels verduidelik die drywer dat ons net ons gids optel, die twee souties strip hulle moere en na ‘n paar woorde ry die drywer weer sonder gids. Ek deel die drywer mee dat ek ‘n atm soek en wil geld trek, na ‘n paar draaie stop ons by een en die werk nie, intussen verduidelik hy dat die gids verniet is en dat ons reeds vir hom betaal het, ons stem in en se goed hy kan maar kom. Ek staan buite en maak ‘n twakkie. Die gids kom al telefoon pratende en met ‘n meneer houding aangestap. Ek maak klaar en staan nader om in te klim, die volgende oomblik klim meneer somer voor in en maak homself tuis as die nuut aangestelde baas van die plaas. Die twee Britte kyk die storie uit en maak opmerkings en aanmerkings, ek bly maar stil, verlang na my vrou. Ons kry ‘n ATM wat werk en ry stadig deur die drukunde strate van Agra in die rigting van die Taj Mahal. Die gids praat en babbel met ons drywer in Hindi en ons almal hou ons in. Met ons aankoms by die Taj Mahal word ons meegedeel dat ons vir omtrent ‘n kilometer moet stap om by die Taj uit te kom. Die gids babbel en traai ons, maar ons speel nie saam nie. Kry ons net in, ons sal die res self doen! Die sleg van gidse is dat hulle maak of hulle jou nie verstaan nie, of hulle wil jou nie verstaan nie, ons toon geen belangstelling in wat hy te se het nie en ons drentel maar so halfhartig agter hom aan. Ons neem foto’s en neem die prag van Taj Mahal in. Ek staan verstom deur die mense se pelgrims togte na die historiese gebou. Ons staan waar prinses Diane gestaan het en loop waar Morgan Freeman geloop het in sy fliek The Bucket List. Die gids babbel en ons kry die geleentheid om hom te ontwyk, maar Jack begaan ‘n flater en sluit weer aan by die gids. Die rëelings het iewers tussen Suid Afrikaner na Amerikaner na Brit deurmekaar geraak. Terwyl ons die linksom paaitjie vat oorval ‘n klomp Pakistani’s ons en wil hê ons moet foto’s neem saam met hulle. Dit is nie die eerste keer dat ek dit raakloop nie, ‘n klomp het saam met my vrou ook foto’s geneem by die Red Fort in Delhi. Ons glimlag breed en Jes se sy soek ‘n honderd rupee per foto, maar haar barganing skills werk nie en ons drentel aan. Iewers tussen die gebabbel van die gids hoor ek iets van edelstene en Suid Afrika. “ Would you please repeat that?” Vra ek. “ Yes,yes the Taj Mahal was build between 1631 and was finished in 1653. The gems that were used was mainly from Aisia, Belguim and SOUTH AFRICA.” Ek kyk hom ‘n kyk en begin in my geskiedenis laai rondkrap, Jan van Riebeeck ariveer in die kaap 1652, ek hardloop my google search enigine in my kop  en kry die “ No results page”. Diamante is eers ontdek in die laat 1700’s na 1800 toe, so dit beteken dat Jan van Riebeeck baie vinnig ‘n geheime myn moes grou en dit weer toegooi voor die wêreld dit hoor en stilletjies dit aanstuur vir die bou van die Taj Mahal, net voor hy klaar is! Ek dink toe dat dit dalk met Mapangubwe te doen kan hê, maar die wiskunde maak weereens nie sin nie. Ek bly stil en trek die ander drie nader en verduidelik vir hulle dat die ou lieg. Hyden kry so skelm laggie en begin vrae, vrae, na die tweede een besef ons dat die gids op sentiment speel eerder as feite en dat hy self nie eers die basissie feite van sy eie land se geskiedenis ken nie. Ek gee so kykie na bo en dank die hemelse vader dat alles goed gaan tot dusver en dat ek tenminste my feite ken oor my eie land se geskiedenis. Ons trek die verspotlikste ou katoen sokkies oor ons skoene aan en gaan die Taj binne Jack en ek steel foto’s en word verskree deur ‘n man wat eintlik net ‘n harde klap of viagra nodig het. Drie minute later het ons die vervalste grafte gesien want niemand mag die regtes besoek nie en word ons weereens deur gejaag. Buite neem ons foto’s maar binne mag jy nie! Wat se dom rëelings maak die mense. As ek die plek wil opblaas het ek nie foto’s nodig om dit te doen nie. Nee wat die mense is snaaks. Ons verlaat die Taj en drentel in die 48 grade Celsius hitte terug na die hek. Buite wys die gids vir ons ‘n limousine golf karretjie aan en ons neem twee,twee ons sitplekke in. Dis hier waar pappie nie net ‘n babbel hap nie, nee hy hap sommer so die stront ook saam. Nes alles in india, geld die reël dat as daar plek is kan nog klim. Dis warm almal sweet en ons is nie lus om opmekaar te sit nie, die volgende oomblik kom druk die gids sommer nog iemand hier langs my en Jack in en ek strip my moer, hy kan lekker gemaklik op die voor stoel sit en hoef nie ingedruk tussen iemand te sit nie en hy wil nie plekke ruil nie. Ek klim af en met my bedonerde Afrikaans skel ek hom eers. Toe verduidelik ek hom mooi dat ek nie tussen mense in die hitte gaan sit nie en eerder sal loop. Ek vat die pad terwyl die ander wag om verdere passasiers op te laai. Met elke tree wat ek nader aan die hoof hek gee strip my moer al hoe meer. Ons daag op dieselfde oomblik by die hek op. Die gids wil onverskoning vra en dis toe dat hierdie boer se moer nou heeltemal strip, ek gaan slaan my Engelse woorde boek oop en soek die perfekte Engels. ”Now you look at me, and listen carefully, I am a South African not British nor American, when I tell you I don’t want to sit next to people because I am sweating and it is hot, then I don’t want to, if you don’t have the basic concept of respect then you should not even be a guide. Where I com e from this type of f***g shit won’t be tolerated, next time you take a group out you respect them and their wishes.” Die sin was met nog meer gevleuelde woorde gevul en ek draai om en loop, ek gaan hierdie ou nou donner, nee ek gaan hom bliksem besef ek, hy is arrogant en irriteer my al vir die laaste drie ure. Ek koop water en ons klim in die kar. Jack en Hyden blaf die bevele vir die drywer vir pizza hut en ons almal stem in. Almal is nou moerig, want die ou hou net nie op nie, ek moet weereens op die agter seat gaan sit en dit is warm. By die Pizza Hut maak ons onself tuis, net voor ons begin ontspan stap meneer ewe la-di-da in, hy kyk my so aan en begin met “ Sir I am very, very sorry”. Jammer vir wat dink ek, jy weet nie eers vir wat jy jammer se nie, want jy verstaan nie eers die pleidooi wat ek aan jou gerig het ‘n half uur te vore nie. “ Kyk my  vriend of jy hou nou jou bek of ek bliksem hom toe!” snou ek hom in Afrikaans toe. “ What are you saying?” ek staan op en maak of ek die badkamer gaan soek want ek gaan die ou nou klap besef ek, en as ek dit doen dan sit ek met my gat in die tronk, en vroulief is siek. Terwyl ek wegstap hoor ek hoe hy begin se dat hy ‘n goeie gids was en dat hy ons gelukkig gemaak het en dat ons hom gelukkig moet maak. Toe ek terug kom, is hy weg en die ander drie lag laat dit bars, hulle deel hom mee dat ons Suid Afrikaners mense vermoor vir die grap sonder om te blik of te bloos en dat hulle dink hy eerder moet gaan want as ek terug kom, hy dalk net nie meer die volgende dag sal sien nie. So het hy die pizza hut verlaat sonder ‘n dooie Amerikaanse, Britse of  Suid Afrikaanse sent. Ons lag en gesels oor strooi, die ander drie besluit dat ons die fort in Agra nie gaan besoek nie, maar eerder terug trek Delhi toe. Ek wil nie saam stem nie en redeneer dat dit geld kos om te kom, nee se hulle, hulle is gatvol en Lanel is siek. Ek stem saam want my hart is by my vrou, maar ek wil ook nie hulle genot bederf nie. Ek herhaal weer dat hulle nie moet kanselleer weens Lanel en my nie, en hulle hou vol hulle wil terug gaan. Die terug rut gebruik ons om die spiere te ontspan en sommer lawwe grappies te maak van elkeen, ons neem foto’s van mekaar waar ons slaap en doen sommer regte kinderagtige dinge. So tussen deur slaap ons en na ‘n paar uur stop ons by ‘n pad restaurant. Ons koop almal vir ons iets te drinke en gaan staan in afwagting vir die drywer by die kar. Ek laat weet lief per sms dat ek oppad terug is. Sy antwoord amper onmiddellik terug en laat weet dat die medikasie werk, sy voel beter. Vroeg aand daag ons by die gastehuis op en almal verkas na hulle kamers toe, vir my en lief is dit die laaste aand in Delhi. Lief lê nog plat, sy het darem die straat bereik en ietsie probeer eet deur die dag. Lanel lê en ons gesels oor die dag se gebeure, na ‘n ruk raak sy weer aan die slaap en ek besluit om op die dak te gaan sit. Die dag se dinge maak my senuwees gedaan. Ek kry vir Jack en Hyden in die gang en saam gaan sit ons op die dak. Elkeen in sy eie wêreld van gedagtes. Ek gaan kyk of Lanel nog reg is en gaan weer terug dak toe, ek sit en staar oor die hele Sant Nagar om my, en hol ‘n klomp dinge deur my kop. Die vrae draai soos ‘n malle meule en ek soek antwoorde. More vertrek ons Varansi toe, ons Belgiese vriende kom kuier en lief lyk sleg. Moet ons nie maar eerder halt roep alles afstel en terug gaan huis toe nie? Of moet ons nog ‘n dag uitstel en dan kyk wat gebeur met Lanel? Ek sit net daar op die dak en bepeins die situasie. Jack kom later terug en ons gesels so flou weg. Die moeg begin ons almal vang en ek kyk so laaste keer oor die stad. Dis hier waar die besluit moet geneem word besef ek, is dit  die punt waar ons omdraai, of die koma waar ons aangaan. Met die ongemaklike besluit telefoon bewend in my hand, en die stres vir wat ek die familie moet meedeel, stap ek die trappe af. More na die Belge ons besoek het is dit sulke tyd, dan is dit klaar maak oppak en waai.  Vir halt roep is daar nie tyd nie. Nathan en Virgini kom laat oggend by ons aan, ons gesels terwyl Lanel wat baie goeie beterskap toon begin pak. Na alles rus sy ‘n rukkie en ons gaan besoek die local mark. Dit gaan goed en Lanel met die hulp van die twee Belge stry die arme Indiër dat sy oë traan en sy koop die bangels wat sy wil hê vir die skool konsert. Ons stap rustig en kuier,kuier deur die verkeer na die Mc Donalds, Lanel en Virgini koop elkeen ‘n burger en ek en Nathan herdink die burger ding en besluit dat ek gaan vir oulaas hier local eet. Die kos brand die dinges uit my uit maar ek is net te bly dat lief die kos inhou en dat haar maag stabiliseer. Die laaste fase breek aan en ek sorg dat die imoduim en metronodizile naby is. Ons durf die metro aan en dit gaan goed ot by New Delhi stasie. Met die afklim slag word ek sommer weer terug gelaai in die trein en ek besef as ek nie hier my buffel streke gaan uithaal nie ek saam na die volgende stasie gaan. Ek hak eerste rat en stoot, en daar trek die klomp wat wil op sommer so saam met my uit. Hulle vloek en skel my in Hindi en ek gee so bedonerde kyk en spreek ‘n paar gevleuelde woorde in Afrikaans. Die trein vertrek sonder hulle en ek kry sommer so lekker gevoel binne my. Ja julle ongeskikte donders, julle klomp Indiërs druk mos voor almal in en druk almal uit die pad uit, nou het julle te doen gekry met ‘n regte beneekte Suid Afrikaans gekweekte boer, dink ek by myself. Ons kry vir Lanel en Virgini in die massas mense en vat die pad na die stasie. By die stasie groet ons, ons groet, en ek kan sien die twee Belge wil nie regtig afskeid neem nie, ons draai en drentel en uiteindelik kom die afskeid tyd, ons groet, maar dis nie die lasste groet nie weet ek. Ons sien mekaar binnekort. Ons sit op perron 15 en daar sluit toe nog ‘n groep van baie onsekere Belge by ons aan, ek let op wat om my aangaan en sien hoe ‘n ouerige vrou net daar op die perron haar self laat gaan. Eers stry ek en lief en na ‘n recon besef ons al twee dat sy net daar geürineer het. Dit wemel van mense om ons en kort voor ons val ‘n man flou, ek kyk hom aandagtig aan, asemhaling vlak, uitgeteer, swere op sy voete, definitiewe tekens van ondervoeding my voorspelling is nie goed vir hom nie. Ek gaan roep die stasie polisie en verduidelik die situasie en dat die man ‘n hospitaal nodig het, hy roep op sy radio en verdwyn. Die mense loop om hom en nou en dan skop iemand hom om hom uit die weg te laat kom maar sy respons is maar swak. Die lewe is ook maar nie veel werd as jy nie geld het nie besef ek. Met die gedagte wissel ons van spoor en ek besef niks is ooit ‘n definitiewe punt nie, slegs ‘n koma iewers weggesteek in die vreemde van ‘n vreemde land of plek. Ek kyk terug oor my skouer soos Lot se vrou, en besef die sout wat ek nou eet sal ek darem nie word nie. Die nag omvou ons met sy warm koeligheid, lief lê en slaap. Die imoduim en metronidazole doen hulle werk, en by die deur staan ek vir oulaas en uitkyk voor ek my sitplek in neem vir die reis wat voorlê. 

No comments:

Post a Comment