Wednesday 6 February 2013

'n Boertjie se Travells: India: Hoe de Dinges


Indië- hoe de dinges?



Die nodige reën het nie geval op die plaas soos dit moes deur die seisoen nie. Dinge is maar taamlik taai en die emosies loop hoog. Die oes is nie wat hy moet wees nie. So tussen die harwar en beplanning en herbeplanning en skedulering en herskedulering van ons lewens kry ek en lief dit reg om een aand rustig buite in ons toe maar gehawende tuintjie te gaan sit. So tussen die gemoan oor skool en plaas herinner sy my aan die ding wat ons bespreek het toe ons in ons jong lawwigheid vir 6km gestap het van Vers na Castelion in die bloedige suid Franse hitte. Net daar sluk ek my beker koffie en my hele pak sigarette in, is sy nou ernstig oor die dinge, ek wil graag maar hel dis mos ʼn ding wat sy pad moet loop, dit verg mos beplanning en daar gaan uitdagings wees. Wat het haar nou daaraan laat dink. Finansieel kan ons nie dit bekostig nie, liefie gee daai moederlike glimlag wat enige man ʼn knop in die keel gee en maar laat instem. So gebeur die ding toe op 24 Januarie 2012. Ek en vrou lief hang in die Kolonade sentrum rond nadat ons ʼn paar reëlings getref het, ek kry weer een van my buie en neek in ʼn rigting in, na so ruk besef ek dat ek die een in die huis gaan wees wat die verantwoordelikheid moet dra as daar pilletjies moet gegee word, ek drentel tussen die rakke rond en bekyk al die medisyne, steek so rukkie by die baba rak vas, kry so effense hoendervleis en verkas baie vinnig na die pille afdeling toe, ek is tog immers ʼn medic in opleiding, probeer ek myself oortuig. Ek wandel deur die pille rak, maar die ding wil net nie gaan lê nie, kan ons dit doen, het ons die moed daarvoor, wat as, wat gaan ons ouers dink. Die vrae maal in my kop terwyl ek saam met die escalator so trappie vir trappie na die tweede vlak beweeg, liefie het my al ge-sms dat sy wag. Is ons volwasse genoeg, man dis mos nie kinder spelletjies die nie, jy hoor van soveel komplikasies. By die Woolworths draai ek links af en stap die laaste paar tree na die klein winkeltjie waar ʼn dame ons met ʼn groot glimlag ontvang. Lanel verduidelik en ek kry soos gewoonlik verbale diarree. Die dame verduidelik die proses en tik haastig op haar rekenaar. Julle was al voorheen hier? Ja ons was. Die getik gaan met meer hartstogtelikheid voort. Ek word stil liefie word stil, die volgende oomblik toe sy praat wip ek soos ek skrik. Julle het twee opsies, die een gaan bietjie vroeër wees as die beplande datum, en die ander is, ʼn dag of wat later as julle beplande datum, ons kies opsie twee, wat vir ons voorlê is 14 ure van pyn, lyding en swaarkry. Niemand het nog ooit gesê dat vlieg in ekonomiese klas vir ʼn 1.96m ou lekker is nie. Met haar laaste woorde en die teken van die dokumente het ek geweet, nou is dit verby ons is gestempel.


Voorlaai.




Jan van Riebeeck het geskip en geskeerbuik in die kaap geland, die voortrekkers het getrek, die boere het die Engelse geskiet, die NP het Mandela vrygelaat en ons kan ons visas vir india verniet kry. Tyd het ʼn manier om te slyp, wysheid steek sy boeke weg, en ons pluk tabak op die plaas dat dit klap. Lanel leer haar kinders by die skool, en naweke is ons of op die pad saam met GPG of ek vergaap my aan visse 20m onder water. Ons het die beplanning so effens opsy geskuif, daar is nie nou tyd vir oplees en Lonely Planet nie, hier in April boek ons, ons eerste nagte in Delhi, dit gaan maar skrikkerig amper soos ʼn bang hond hare op die rug regop, maar stert tussen die bene, Varansi se bespreking was beter, stert so effens gelig maar die tande wys nog nie, met Kolkata se bespreking het die tande gewys en die stert was penregop in die lug. Beplanning het sy eie manier van loop het ek al gevind, die eerste vase begin so jaar of wat voor die tyd, dis wanneer die idee begin lol, sy sit hom daar op jou rakkie van dinge wat gedoen moet word. Vase twee is gewoonlik die finalisering van jou vliegkaartjies en behuising in die vreemde, dan kom die klein gemorsies, wat as jy nie aan hulle dink nie jou lewe baie, baie gou kan moeilik maak. Die kom so saam met fase drie, vier en vyf, en hulle kan jy nie bepaal nie, want elkeen is soos ʼn klein babetjie jy weet nooit wanner die klein wetter gaan broek vuilmaak nie, vergeet net, dan is dit gebrande boude kwaai ma en ouma, en somer befoeterde skoonma. So kom ons beplanning aan die gang maar eers was daar die spreekwoordelike vertragings die harwar van boer, medic en duik, het dinge by ons beeste ook skeef geloop, die grond wat aangrensend is van die wat ons huur is Staats grond en is oornag beset deur plakkers, om te keer dat die beeste nie gesteel word nie, gaan kraal ons elke aand die beeste en vroeg maak ons hulle oop, ʼn irriterende werk wat my amper tot raserny en slegte mense gedryf het. Die middag terwyl ek loop en kyk of die drade reg is lui my telefoon. Dis Duan van flight centre.”Good day Mister Roos, This is Duan I’m Calling from flight Centre Colande” Ag my chom dink, ek het nie nou lus vir een van jou verkoop tegnieke of pakket afsmering nie. Dis laat, al die beeste is nie in die kraal nie, en ek is alreeds goed omgekrap.”Mister Roos I’m calling in connection with your flight details to Delhi.” Met dit kry ek so koue rilling ten my ruggraat af, en ek weet hier kom nou ʼn ding. ”Mister Roos i would like to inform you that Jet airways has suspended all their flights from Johannesburg to Mumbai. But we wil keep u informed.” Dis 4 weke voor ons vlieg. Ag nee wat nou, my moed sak in my skoene in. Wat nou! “ What is the next step?” Vra ek hom, sy antwoord was gerusstellend, maar die stemmetjie in my agterkop wil nie stil bly nie. “ Mr Roos we are working on it but Jet Airways will put you on  another flight as soon as they can.” Met die beëindig ons die gesprek en ek bel vir vroulief. ʼn Week gaan verby en ons hoor niks van niemand af nie. Ek klim op my spreek woordelike high horse en bel elke persoon wat ek kan, uiteindelik kom die eerste antwoord terug. Ons gaan moet inbetaal. Ek staan vas en deel hulle mee dat dit nie die ooreenkoms was nie. Gelukkig stem die dame saam en ons wag. Twee weke voor ons vlieg begin die spanning hoog loop, daar moet nog aansoek gedoen word vir visas, verskering moet uitgeneem word en ons het nie ‘n vliegkaartjie van ‘n dag oud nie. Die Maandag middag laat gaan sit ek moedeloos voor die rekenaar en lees my e-posse, uit die bloute kry ek ‘n e-pos met die vliegkaartjies. Ons vlug is vervroeg met 3 dae, liefie boek ekstra dae in Delhi, bevestig alles, en ons gryp die vorms vul in, en jaag die Woensdag Johannesburg toe, Nege dae voor ons vlieg. Die Vrydag het ons, ons visas en ons gaan breek so bietjie weg by my skoonma-hulle op die plaas net buite Potchefstroom. Die laaste week sluip verby die werk wat afgehandel moet word wil nie afgehandel word nie, ek hol van bakboord na stuurboord en uiteindelik die Sondag nag handig ek die dinge aan my pa oor vir bewaring tot ek terugkom. As ons maar net geweet het wat die Maandag op ons wag, as ons maar net geweet het....

No comments:

Post a Comment