Wednesday, 27 February 2013

'n Boertjie se gedagtes: Ken Jy van Sukkel


Ken jy van sukkel?


Dit is al reeds warm as ons opstaan net so skuins voor ses die oggend. My daaglikse roetine is so bietjie omver gegooi. Ons moet ‘n tabak boeredag gaan bywoon, en dit in hierdie hitte. Ek sal eerder graag by my span wil wees, maar ja, as jy inligting oor jou bedryf wil hê dan moet jy seker maar die minder lekker van in die warm son gaan staan en luister na ‘n plantkundige wat eintlik die selfde ding oor en oor vertel. Ons vergader en die manne praat met lof en dank segging oor dinge wat ons blykbaar baie raak. Ons verlaat die donker area van die plaas restuarant, met die vraag “Om te rook, of nie”? en begin met die aantog na die landerye waar die proewe geplant word. Ons beklaag die situasie in die Kaap met die stakings en die warm son. “ Nee man so kan dit nie aan gaan nie, die goed staan en verbrand hier onder die besproeiing.” “ Die wit vlieg is darem maar iets ysliks die jaar, ja dis alweer hierdie groente boere wat die goed nie afhaal van die lande as hulle klaar geoes het nie.” Ons trap rond en die plantkundiges en grondkundiges raak hulle formules al hoe meer kwyt. Die een boer wil nie ophou vrae, vrae nie en die manne begin ongemaklik rondtrippel. Nee genade, dink ek en gaan soek die koelboks waar daar darem ‘n lafenis in versteek is. Ek knak die kannetjie se kop en teug lekker. Nee se gat hiermee, nou gaan ek terug bakkie toe, die ouens praat nonsens , darem kan ek daar sit en nuus luister terwyl die aircon loop.  Die lugspieëls speel oor die pad as ek naby my bakkie se deur kom, ek kyk af en uit die skimme van die bedrieglikheid kom die swart skim, ek hou hom dop, een trap op en dan weer een af, stadig en statig. As hy stadig verby my trap knik hy sy kop en ons groet. Die sweet loop behoorlik teen ons af, ek kyk af na die blikkie in my hand, ek draai om, om met hom so stukkie lafenis te deel. Die skimme speel oor die pad en die lug speel sy spelletjie met sy spieëls. Ek deel die lafenis met hom en stadig bekruip die gedagte my, “Wat is sukkel?”

Dis al ou nag as ek begin insluimer, die radio is stil, besonders stil, dink ek terwyl ek terug leen in my stoel. In die agter grond hoor ek hoe Sean besig is om na ‘n paar cd’s te luister. Droomland wag vir my as my oë toeval en ek die binne ruim van my eie verdwaalde drome betree. Ek word eers wakker uit my diepe slaap as die kar se serene hard in my ore weergalm. Gewoonlik is ek dadelik wakker as die radio kraak of ‘n selfoon lui. Ek vind vinnig uit waarna toe ons oppad is en wat gaan die doel van ons besoek wees. “Gunshot,Mamelodi” is al wat ek uit hom kry, terwyl hy konsentreer op die verkeer voor ons. Die adres is soos gewoonlik amper on vind baar maar met moeite maak ons dit. Ek is ooglopend opgewonde, dit sal my eerste “gunshot” wees. Die ligte se geflikker weerkaats teen die blink van die shacks, die pad is uitgemerk vir ons en ons word begelei deur ‘n ongeskikte konstabel, sal sweer ons het die misdaad gepleeg. Ons word ‘n kamer van sink agter in ‘n hoek aangewys. Ons werk word vinnig afgehandel, dit was ‘n gesins moord. Die kind het darem weg gekom. Ons gaan soek die kind en deel haar saam met haar familie mee dat daar niks is wat ons kan doen nie. Terwyl ek weg stap, kyk ek terug oor my skouer na die blink huisie in die agterkant van die yard en ek weet, vanaand sukkel ek nie alleen nie.

Ek moet sigarette kry en vinnig, my nerwe is klaar my twak is op en ek gaan nou, nou iemand aanrand. Die werkkers is traag en my moer meter is weer in die rooi. Ek spring in my bakkie jaag winkel toe en terug. Die dag sluip verby, een van my tabak droërs se deure het gebreek en moet in totaliteit oorgebou word. Ek het min tyd, die nuwe tabak is gehang, en ek moet die droër afseel so gou as moontlik. Ons werk teen tyd, en tyd teen ons. Uiteindelik net voor vyf die middag seel ons die deure af en maak reg vir ‘n rustige aand. Ek en Lanel bespreek die dag se gebeure by die skool en op die plaas.

 Dis al ou nag as my selfoon my wakker skreeu. Ek antwoord en hoor een van my werkers skreeu blou moord. Ek gryp die mediese sak, skreeu almal wakker om kanne en enige ding wat water kan vat te laai. Met ons aankoms by hulle huis was dit so te se te laat. Na meer as ‘n uur se gestoei met die vlamme, en nadat alles tot bedaring gekom het begin ek die mense se behandel vir brandwonde.

 Die bossies staan al groot gegroei toe ek weer nou die dag die afgebrande huis gaan besoek. Binne lê die oorblyfsels van die verlede verskroei, verbrand tot as. Terwyl ek so op die murasie se muur sit en die nag herroep weet ek dat ons het saam gesukkel, maar my gesukkel was net makliker.

No comments:

Post a Comment