Friday, 21 October 2016

Knersvlakte



Die aarde vat pressies 23h 56m en 4s om een keer om sy eie as te draai volgens vaste sterre in die hemelruim. Ons mens het ook sulke vasgestelde punte in ons eie verwysings raamwerk, waarmee ons ʼn vaste tyd en plek binne die samelewing kan bepaal. Ons bepaal ons emosie, beplanning en lewens bestaan op hierdie vaste punte. Dit gebeur dat van hierdie vaste punte, nie meer vas is nie, en ons hemelruim en polariteit heeltemal, deur een gebeurtenis en omwenteling aangepas en verskuif word. Die sogenaamde paradigma verskuiwing wat plaasvind.

Sondag 16 Okt. 21:30 Dit voel soos ‘n bom wat my tref, Lanel word opgeneem in die hospitaal. 3:00am sy word oorgeplaas na Eugene Marais, Ektopiese Swangerskap. 8:00am Sonar bevestig. Mamma se pyn is ondraaglik en sy skreeu. 11:00 am Nood operasie. Besef vaste punt is geskuif, mamma kon dood gewees het. Operasie suksesvol. ICU. 24 uur sonder slaap.

Ek stap af om my senuwees te kalmeer en om mamma se nodigste te kry vir ICU. 1x Tandeborsel, 1x Kam, 1x Tandepasta. Dis al wat toegelaat word. Ek rook ‘n sigaret en begin in die tas krap. Ek vind 1x Tandepasta, 1x Kam, 1x Seep. 0x Tandeborsel. Krap, krap, pak klere uit, soek, krap, krap.0x Tandeborsel. My kop klop van hoofpyn al vir die afgelope 6 ure. 0x pynpille in die tas of bakkie. Ek loop apteek toe en koop ‘n tandeborsel en pynpille. Die dame gee vir my so bruin papier sak. Ek moet slaap, ek kry nie geslaap nie. Ek loop op en af en klou aan die papier sakkie asof dit my enigste uitweg en vaste punt in my lewe is. Gebed, “Here Jesus, Walter kan nie sonder ‘n mamma groot word nie! Asb. Amen”

Ek besef dat daar net een vaste punt op my kompas vir my oorbly, en ek sal daardie aanwysing moet gebruik, dit sal die enigste pad deur hierdie dorsland wees, ek het die Knersvlakte bereik. Gebed “Jesus gee my krag en rigting, as dit moet, neem my lewe en gee dit vir Lanel as dit moet. Walter kan nie sonder ‘n mamma grootword nie! Amen” Ek volg Sy vaste punt met my kompas en bereik die oases van vrede. Gebed “ Here Jesus u het van beter geweet, waarom sal ek nie verstaan nie, eendag sal ek verstaan. Amen”

 

Melaats

 

Ons is deur diep waters die week, hierdie was ons tweede miskraam, presies ʼn jaar uitmekaar uit, ongelukkig het die laaste een met groter risiko en gevaar vir Lanel gekom. Dis tydens sulke tye wat jy besef wie mense werklik is, soos die Woord dit stel, in tye van welsyn en jubel is hulle daar, maar as die wyn en sang opraak, verdwyn hulle soos mis voor die son.

Dis asof mense ‘n vrees ontwikkel om met jou te praat as hulle hoor jy het ‘n miskraam gehad. Dis asof mense bang is jy gaan hulle aansteek, net soos die melaatses van ouds, jy word eenkant geplaas en weinig het met jou kontak. Dis die grootste fout wat julle maak, ons wil praat, ons wil ons emosies deel, heng ons gaan kaalgat hel toe en terug. Daar is nie vir ons ‘n klein mense om afskeid van te neem nie. Ons weet daar was klaar ‘n klein mensie, so wat moet ons maak? Tog word jy soos ‘n melaatse behandel.

Dis die weinige en mense wat jy nie verwag wat hulle hande uitsteek en joune neem, nie bang is om aangesteek te word nie, en die troebelheid van jou siel kom ophelder.

 

Met Dank

 

Ek wil graag die volgende Mense bedank vir hulle bystand en onbaatsugtige opofferings: Ons Moeders Susan Coulter en Doreen Roos, My pa James Roos, Elmien Flemming, Charlene Vorster.

Vir die wat elke dag gebel het, en persoonlik na Lanel en my welstand verneem het: Br. Eugene en Sarie Steenkamp, Br. Pat en Martie Smith, Anton en Lanie Groenewald, Carika de Lange, Elma Marais, Tiaan en Jana Dippenaar, Kobus Barnard, Riandi Roberste
Dan aan ons liefling kind Walter. Jy het geen benul gehad van wat aangaan nie. Pappa sal jou as jy ouer is verduidelik wat gebeur het. Dankie dat jy ons lewe kom volmaak waar daar gate ingeruk is.

Wednesday, 21 September 2016

Per Se Sê jy


Jy Judas,

 wat op die straathoek staan en bid,

die voorsang vat en die fariseërs saamroep.

Jy wat nie met liefde wil gee nie,

jy wat die jou sak geslote hou,

sodat dit rond vol staan met nege en twintig silwer sikkels.

 

Ek hoor die kinders huil.

 

Hulle stemme gaan uit vanaf die Temple poort.

Die Temple wat jy beklee met goud en satyn.

 

Ek hoor die kinders huil.

 

Die krummels vee jy op van die tafel

Verkoop dit vir nog ‘n silwer sikkel.

 Jy Judas

 jou kas staan vol geraamtes.

 

Ek hoor die kinders huil.

 
                                         Judas ek het drie maal die kinders hoor huil.


***Please Leave a comment. / Los asb. jou gedagtes of griffelstukkie van wat jy dink.

Monday, 19 September 2016

Want Ester Trou.



Stief het vir my so onaardige gevoel aan hom, stief is vir my iets wat jy ‘n lokasie brak mee vloek. Nou neef Tiaan is ook nou nie eintlik my neef nie, hy is nie eers bloed verwant nie, volgens familie rekords is hy stief. Vir my is hy neef Tiaan, so goed soos bloed en hy is familie.

Nou ek wil so bietjie vertel van my en neef Tiaan se trippie Windhoek toe. Nou kyk ek en Tiaan is nie die maklikste mense op aarde nie, ons kan vir ons liederlik opruk en ons gatte mooi dwars gooi as ons wil, maar ons is sagte mense, as dinge druk, dan loop die emosies maar maklik by die ogies uit.

Ons kry brief uit Namibië Nig Ester gaan trou. Die familie vat hulle optog Windhoek toe via Upington, maar helaas, ek en Tiaan moet werk vir ons brood en ons kan eers drie dae later die pad vat Windhoek toe. Met sy “goedkoop” op brandstof Nissan 1400 het ons in die pad geval. Ek het dit wel versuim dat daar ‘n verskil is tussen my en Tiaan (boon behalwe dat ons nie dieselfde pa en ma het nie, en glad nie eers na mekaar lyk nie) hy is ‘n pynlike netjiese man, ek weer kan vir drie dae dieselfde klere aantrek en is nie gepla om deurmekaar te wees nie.

Ester trou toe in ‘n kelder vol wyn, en Oom Koos loop homself half deurmekaar teen die glasdeur oor die gedansery en wyn drinkery, en ek en Tiaan val onseremonieel in die pad die dag na die seremonie. Dus toe hier waar die pap op die pad val, Tiaan moes die petrol en verblyf terug betaal. Net duskant Gobabis tussen niks en nêrens, het hy my meegedeel dat ons net genoeg sous sal hê tot op die grens. Ek bly stil praat anderkant toe. Wel die uiteinde was dat ons het elkeen in onse eie huisie gaan slaap en die pad terug was maar bra knorrig.

Dit was die eerste keer dat ek hom amper, amper gefoeter het. Ons het al telkemale liederlike meningsverskille gehad, so dat die familie met ons begin baklei het. Ons is familie, ons praat tot ons klaar gepraat het. Dit is vir my soms so hartseer om te sien dat mense oor meningsverskille ‘n wrok begin dra, hulle bedreig voel as jy bydrae en strekstaan waarin jy glo.

Ek kry soms die idee dat mense lieg vir hulle self oor die, wat, waarom en hoekom. Ons verf die mooiste Van Gogh en bou die mooiste Stradivarius, Agter die Van Gogh hang ons ware kleure. Die Stradivarius hou ons omhoog as ‘n simbool van mag, as die boog die snare tref vibreer die gevoel van diktatorskap daaruit, vergete is die helder skoonheid van kleur en klank. “All animals are equal, But some are more equal than others” George Orwell. Ek dink dat dit wat ons bind is dieper as geloof, kultuur, tradisies en organisasies. As ons die waarheid in die lig stel, dan vind ‘n eerlike binding op geestelike vlak plaas.
Om terug te kom by die storie, oppad terug vang hulle ons vir spoed, Tiaan was toe net die ene verliefdheid op daai stadium en wou huis toe. Tiaan blaf vir die Speedcop en se hy sal betaal, en hy het betaal. Ek blaf vir Tiaan en hy los my langs die pad, ek vang toe maar lift huis toe saam met twee verdwaalde Namibiërs. Tiaan is my neef, nie my bloed nie, maar hy is familie. Want Ester het getrou.



***Please Leave a comment. / Los asb. jou gedagtes of griffelstukkie van wat jy dink.

Monday, 12 September 2016

GATVOL


Dis nou net mooi genoeg. Ek is gatvol, ek is sommer lus en loop, wat van ‘n vliegtuig kaartjie iewers heen, Thailand, dan kan ek gaan Golf speel, wag, wag, ek speel nie golf nie, India miskien my geloof weer vind, nee, nee dis nie my geloof nie, of wat van Israel, ‘n Pelgrimstog deur Bethlehem, ‘n wedergeboorte van my siel.

Ek het vanoggend aansoek gedoen vir werk in ‘n ander land, ek glo nie ek gaan dit kry nie, die laaste maand was net te veel, eers het ons, ons ongebore kind verloor, toe een van ons beste werkers, toe kom die hael en moer alles weg. Genoeg skreeu ek dit ten hemele, GENOEG.

Dis hier waar die ruspe my binneste vreet
 Die lewenskroon verteer

Die luis wat my are uitsuig

Die swam wat my wortels verrot
Die virus wat my groei stand
Die son wat my blare verbrand
Ek hang verwelk teen die hemel
Ek is die tabak plant

Uit my kry jy R46

 

 

Dan stil word die nag, in die koel wind vind ek lewe. My vlerke oopgeskry soos die van die albatros, kom wind kom weer, ek is vry, vry om my vrou en my kind lief te hê, dan kyk ek na die land en weet, net soos Habakuk en Jeremia dat daar is altyd hoop.

Uit die binneste van ons swaarkry, die beproewing van ons lewens, vind ons in die kakofonie, dat lewe is genade, en genade is al wat ons nodig het.


***Please Leave a comment. / Los asb. jou gedagtes of griffelstukkie van wat jy dink.

Friday, 9 September 2016

Genade is ʼn Mostert saad


Die reën bly weg, die droogte het ons ingehaal, sy angel ingeskiet tot in die diepste aar van ons lewens bestaan. Die son is ons minder genadig, terwyl die gif ons bloed laat stol en ons stuk aan die stank van ‘n verskroeide aarde, trek hy die lewens water uit ons siele. Maar ons ploeg voort, elke wolk is hoop,  elke oggend ‘n Mostert saad.

Ons veg voort. Die saad sal ontkiem, nuwe lewe kom. Ek kyk na my vrou en ek sien die nuwe lewe groei in haar oë, ons klein saadjie word mens. Dan soos die ruk wind van ‘n storm wat die sterkste boom ontwortel, word ons klein boompie ontwortel. 14 Oktober, ons kind word weggeneem. Ek kyk na my vrou, ons weet dat daar nog ‘n Mostert saad sal wees, ons sal aanhou hoop.

Die son het sy strale gesaai, die gras verdroog onder ons voete, die stilte verbreek deur die klap van lemme wat veg met die lug. Die wit wolk van ‘n brandblusser word stil weggewaai deur ‘n koel wind. Die klap van die lemme, donder in ons ore, die fluit van die turbine brand sy letsels op ons siele. Ons staan en toekyk hoe die redding van ‘n werker stadig deur die lug wegbeweeg. Hoop is op die vlerke van ongesiene Engele.

Wolke bring hoop, wolke bring water, water bring lewe. Die massa maal en maal oor ons siele, ons ploeg voort. Die nuwe hoop het gekom. Die hemele maak oop. Die gedonder van die hael, breek ons siele in stukkies, ons Mostert sade vernietig.

Genade, is ‘n Mostert saad.



***Please Leave a comment. / Los asb. jou gedagtes of griffelstukkie van wat jy dink.

Thursday, 4 August 2016

Derde Brief vir C. Johan Bakkes

04/08/2016
ʼn Derde Brief vir C. Johan Bakkes

Die lewens wandelpad is ʼn samevoeging van ʼn kakofoniese simfonie, ons moet sin maak uit die samestelling van die lewens note, wat dwarrelend in ons gemoed opklink. Party se blad musiek moet reëlmatig in tyd opgedeel word, saamgevoeg met die klanke van die harmonie van middel C, ander sin weer die gerommel van dromme op die onreëlmatige gedruis van voete oor die Afrika sand.

Mens skryf briewe om iets van jou siel te verklap, om die bladmusiek weer te gee in ‘n melodramatiese styl op gedis in ‘n maskerade wat ritmies voorgestel word op tyd wat nie werklik bestaan nie, ‘n allegorie in D-Minor.

Dan sien mens die mens, iewers in die platteland, en jy breek deur in ʼn simfonie van harmonie, en uit jou siel kom die suiwerste herderste samestelling wat stelselmatig ontvou in ʼn crescendo.
Mag mens dan bravura wees en ‘n danksegging skryf in forte met ‘n oktaaf van furia en fuoco.
Johan jy leer ons om nie tacet te leef nie, maar eerder met brioso en forte.
Dankie vir die ou nag kuier in Koffiefontein.

Wees gegroet.

Herman J. Roos




***Please Leave a comment. / Los asb. jou gedagtes of griffelstukkie van wat jy dink.

Sunday, 4 August 2013

'n Boertjie se Travels: Vat die agter ompad: Van Katnael tot Tomburke

Voorloop.

“Jy dink jy is cooller as ekke” Jack Parow. Vir die ou in Maun by die Bar wat amper my travel opgedonner het.

Inskrywing

Die koue lug, gevul met die nag se na brand van die warm maak vure, het my siel kom skoonwas, die opdrifsels van India uit die oseaan van die siel is skoon gemaak. Die onstuimige see het begin roer, terwyl my voete kraak deur die ys van die laatnag koue, het die waters begin warm word. In die sand van my siel het ek die pad gesien, die soeke na die nuwe en vreemde van vergange, die paaie wat soveel voor my en na my sal loop.

Ek kyk op na bo, waarvandaan sal my hulp kom, my hulp kom van die Here. Die ys kristalle van die vorige nag lê wit gesaai oor die vlaktes, ek kyk, voel en proe die winter, Terwyl ek rustig deur die koring lande vir oulaas stap. Groet is swaar, die benoudheid van wat voorlê beklem my hart, my siel is omgekrap, en net soos die man wat voor die berge staan, staan ek en ek slaan my oë op na die Berge.

Elkeen van ons het 'n manier van lewe, ons volg die pad wat ons dink is die beste. Soms kyk ons terug en net soos wat Kingsley Holgate eendag gesê het, jy het 7 klippies elkeen stel 10 jaar voor gooi die weg wat verby is en kyk wat jy gedoen het, maak reg en verbeter op dit wat jy gedoen het. Ek sit hier in Malawi en skryf, die meer lê aan my voete, om my klink die nagtelike musiek op, hier in die middel van die meer, weet ek ons het nou eers begin klim.

Kind van Afrika, kind van Europa. In Afrika is jy gebore, sy grond sy mense loop in jou bloed, jy soek die vreemde, jy soek na niemandsland. Jou tog is verder, maar tog nader. Jou hart ken die pad, jou voete onwillig. Kind van Afrika kind van Europa.