Friday, 21 October 2016

Knersvlakte



Die aarde vat pressies 23h 56m en 4s om een keer om sy eie as te draai volgens vaste sterre in die hemelruim. Ons mens het ook sulke vasgestelde punte in ons eie verwysings raamwerk, waarmee ons ʼn vaste tyd en plek binne die samelewing kan bepaal. Ons bepaal ons emosie, beplanning en lewens bestaan op hierdie vaste punte. Dit gebeur dat van hierdie vaste punte, nie meer vas is nie, en ons hemelruim en polariteit heeltemal, deur een gebeurtenis en omwenteling aangepas en verskuif word. Die sogenaamde paradigma verskuiwing wat plaasvind.

Sondag 16 Okt. 21:30 Dit voel soos ‘n bom wat my tref, Lanel word opgeneem in die hospitaal. 3:00am sy word oorgeplaas na Eugene Marais, Ektopiese Swangerskap. 8:00am Sonar bevestig. Mamma se pyn is ondraaglik en sy skreeu. 11:00 am Nood operasie. Besef vaste punt is geskuif, mamma kon dood gewees het. Operasie suksesvol. ICU. 24 uur sonder slaap.

Ek stap af om my senuwees te kalmeer en om mamma se nodigste te kry vir ICU. 1x Tandeborsel, 1x Kam, 1x Tandepasta. Dis al wat toegelaat word. Ek rook ‘n sigaret en begin in die tas krap. Ek vind 1x Tandepasta, 1x Kam, 1x Seep. 0x Tandeborsel. Krap, krap, pak klere uit, soek, krap, krap.0x Tandeborsel. My kop klop van hoofpyn al vir die afgelope 6 ure. 0x pynpille in die tas of bakkie. Ek loop apteek toe en koop ‘n tandeborsel en pynpille. Die dame gee vir my so bruin papier sak. Ek moet slaap, ek kry nie geslaap nie. Ek loop op en af en klou aan die papier sakkie asof dit my enigste uitweg en vaste punt in my lewe is. Gebed, “Here Jesus, Walter kan nie sonder ‘n mamma groot word nie! Asb. Amen”

Ek besef dat daar net een vaste punt op my kompas vir my oorbly, en ek sal daardie aanwysing moet gebruik, dit sal die enigste pad deur hierdie dorsland wees, ek het die Knersvlakte bereik. Gebed “Jesus gee my krag en rigting, as dit moet, neem my lewe en gee dit vir Lanel as dit moet. Walter kan nie sonder ‘n mamma grootword nie! Amen” Ek volg Sy vaste punt met my kompas en bereik die oases van vrede. Gebed “ Here Jesus u het van beter geweet, waarom sal ek nie verstaan nie, eendag sal ek verstaan. Amen”

 

Melaats

 

Ons is deur diep waters die week, hierdie was ons tweede miskraam, presies ʼn jaar uitmekaar uit, ongelukkig het die laaste een met groter risiko en gevaar vir Lanel gekom. Dis tydens sulke tye wat jy besef wie mense werklik is, soos die Woord dit stel, in tye van welsyn en jubel is hulle daar, maar as die wyn en sang opraak, verdwyn hulle soos mis voor die son.

Dis asof mense ‘n vrees ontwikkel om met jou te praat as hulle hoor jy het ‘n miskraam gehad. Dis asof mense bang is jy gaan hulle aansteek, net soos die melaatses van ouds, jy word eenkant geplaas en weinig het met jou kontak. Dis die grootste fout wat julle maak, ons wil praat, ons wil ons emosies deel, heng ons gaan kaalgat hel toe en terug. Daar is nie vir ons ‘n klein mense om afskeid van te neem nie. Ons weet daar was klaar ‘n klein mensie, so wat moet ons maak? Tog word jy soos ‘n melaatse behandel.

Dis die weinige en mense wat jy nie verwag wat hulle hande uitsteek en joune neem, nie bang is om aangesteek te word nie, en die troebelheid van jou siel kom ophelder.

 

Met Dank

 

Ek wil graag die volgende Mense bedank vir hulle bystand en onbaatsugtige opofferings: Ons Moeders Susan Coulter en Doreen Roos, My pa James Roos, Elmien Flemming, Charlene Vorster.

Vir die wat elke dag gebel het, en persoonlik na Lanel en my welstand verneem het: Br. Eugene en Sarie Steenkamp, Br. Pat en Martie Smith, Anton en Lanie Groenewald, Carika de Lange, Elma Marais, Tiaan en Jana Dippenaar, Kobus Barnard, Riandi Roberste
Dan aan ons liefling kind Walter. Jy het geen benul gehad van wat aangaan nie. Pappa sal jou as jy ouer is verduidelik wat gebeur het. Dankie dat jy ons lewe kom volmaak waar daar gate ingeruk is.

No comments:

Post a Comment