Monday 12 September 2016

GATVOL


Dis nou net mooi genoeg. Ek is gatvol, ek is sommer lus en loop, wat van ‘n vliegtuig kaartjie iewers heen, Thailand, dan kan ek gaan Golf speel, wag, wag, ek speel nie golf nie, India miskien my geloof weer vind, nee, nee dis nie my geloof nie, of wat van Israel, ‘n Pelgrimstog deur Bethlehem, ‘n wedergeboorte van my siel.

Ek het vanoggend aansoek gedoen vir werk in ‘n ander land, ek glo nie ek gaan dit kry nie, die laaste maand was net te veel, eers het ons, ons ongebore kind verloor, toe een van ons beste werkers, toe kom die hael en moer alles weg. Genoeg skreeu ek dit ten hemele, GENOEG.

Dis hier waar die ruspe my binneste vreet
 Die lewenskroon verteer

Die luis wat my are uitsuig

Die swam wat my wortels verrot
Die virus wat my groei stand
Die son wat my blare verbrand
Ek hang verwelk teen die hemel
Ek is die tabak plant

Uit my kry jy R46

 

 

Dan stil word die nag, in die koel wind vind ek lewe. My vlerke oopgeskry soos die van die albatros, kom wind kom weer, ek is vry, vry om my vrou en my kind lief te hê, dan kyk ek na die land en weet, net soos Habakuk en Jeremia dat daar is altyd hoop.

Uit die binneste van ons swaarkry, die beproewing van ons lewens, vind ons in die kakofonie, dat lewe is genade, en genade is al wat ons nodig het.


***Please Leave a comment. / Los asb. jou gedagtes of griffelstukkie van wat jy dink.

No comments:

Post a Comment