Monday 19 September 2016

Want Ester Trou.



Stief het vir my so onaardige gevoel aan hom, stief is vir my iets wat jy ‘n lokasie brak mee vloek. Nou neef Tiaan is ook nou nie eintlik my neef nie, hy is nie eers bloed verwant nie, volgens familie rekords is hy stief. Vir my is hy neef Tiaan, so goed soos bloed en hy is familie.

Nou ek wil so bietjie vertel van my en neef Tiaan se trippie Windhoek toe. Nou kyk ek en Tiaan is nie die maklikste mense op aarde nie, ons kan vir ons liederlik opruk en ons gatte mooi dwars gooi as ons wil, maar ons is sagte mense, as dinge druk, dan loop die emosies maar maklik by die ogies uit.

Ons kry brief uit Namibië Nig Ester gaan trou. Die familie vat hulle optog Windhoek toe via Upington, maar helaas, ek en Tiaan moet werk vir ons brood en ons kan eers drie dae later die pad vat Windhoek toe. Met sy “goedkoop” op brandstof Nissan 1400 het ons in die pad geval. Ek het dit wel versuim dat daar ‘n verskil is tussen my en Tiaan (boon behalwe dat ons nie dieselfde pa en ma het nie, en glad nie eers na mekaar lyk nie) hy is ‘n pynlike netjiese man, ek weer kan vir drie dae dieselfde klere aantrek en is nie gepla om deurmekaar te wees nie.

Ester trou toe in ‘n kelder vol wyn, en Oom Koos loop homself half deurmekaar teen die glasdeur oor die gedansery en wyn drinkery, en ek en Tiaan val onseremonieel in die pad die dag na die seremonie. Dus toe hier waar die pap op die pad val, Tiaan moes die petrol en verblyf terug betaal. Net duskant Gobabis tussen niks en nêrens, het hy my meegedeel dat ons net genoeg sous sal hê tot op die grens. Ek bly stil praat anderkant toe. Wel die uiteinde was dat ons het elkeen in onse eie huisie gaan slaap en die pad terug was maar bra knorrig.

Dit was die eerste keer dat ek hom amper, amper gefoeter het. Ons het al telkemale liederlike meningsverskille gehad, so dat die familie met ons begin baklei het. Ons is familie, ons praat tot ons klaar gepraat het. Dit is vir my soms so hartseer om te sien dat mense oor meningsverskille ‘n wrok begin dra, hulle bedreig voel as jy bydrae en strekstaan waarin jy glo.

Ek kry soms die idee dat mense lieg vir hulle self oor die, wat, waarom en hoekom. Ons verf die mooiste Van Gogh en bou die mooiste Stradivarius, Agter die Van Gogh hang ons ware kleure. Die Stradivarius hou ons omhoog as ‘n simbool van mag, as die boog die snare tref vibreer die gevoel van diktatorskap daaruit, vergete is die helder skoonheid van kleur en klank. “All animals are equal, But some are more equal than others” George Orwell. Ek dink dat dit wat ons bind is dieper as geloof, kultuur, tradisies en organisasies. As ons die waarheid in die lig stel, dan vind ‘n eerlike binding op geestelike vlak plaas.
Om terug te kom by die storie, oppad terug vang hulle ons vir spoed, Tiaan was toe net die ene verliefdheid op daai stadium en wou huis toe. Tiaan blaf vir die Speedcop en se hy sal betaal, en hy het betaal. Ek blaf vir Tiaan en hy los my langs die pad, ek vang toe maar lift huis toe saam met twee verdwaalde Namibiërs. Tiaan is my neef, nie my bloed nie, maar hy is familie. Want Ester het getrou.



***Please Leave a comment. / Los asb. jou gedagtes of griffelstukkie van wat jy dink.

No comments:

Post a Comment