Friday 9 September 2016

Genade is ʼn Mostert saad


Die reën bly weg, die droogte het ons ingehaal, sy angel ingeskiet tot in die diepste aar van ons lewens bestaan. Die son is ons minder genadig, terwyl die gif ons bloed laat stol en ons stuk aan die stank van ‘n verskroeide aarde, trek hy die lewens water uit ons siele. Maar ons ploeg voort, elke wolk is hoop,  elke oggend ‘n Mostert saad.

Ons veg voort. Die saad sal ontkiem, nuwe lewe kom. Ek kyk na my vrou en ek sien die nuwe lewe groei in haar oë, ons klein saadjie word mens. Dan soos die ruk wind van ‘n storm wat die sterkste boom ontwortel, word ons klein boompie ontwortel. 14 Oktober, ons kind word weggeneem. Ek kyk na my vrou, ons weet dat daar nog ‘n Mostert saad sal wees, ons sal aanhou hoop.

Die son het sy strale gesaai, die gras verdroog onder ons voete, die stilte verbreek deur die klap van lemme wat veg met die lug. Die wit wolk van ‘n brandblusser word stil weggewaai deur ‘n koel wind. Die klap van die lemme, donder in ons ore, die fluit van die turbine brand sy letsels op ons siele. Ons staan en toekyk hoe die redding van ‘n werker stadig deur die lug wegbeweeg. Hoop is op die vlerke van ongesiene Engele.

Wolke bring hoop, wolke bring water, water bring lewe. Die massa maal en maal oor ons siele, ons ploeg voort. Die nuwe hoop het gekom. Die hemele maak oop. Die gedonder van die hael, breek ons siele in stukkies, ons Mostert sade vernietig.

Genade, is ‘n Mostert saad.



***Please Leave a comment. / Los asb. jou gedagtes of griffelstukkie van wat jy dink.

No comments:

Post a Comment