Sorry for those who are English I wrote this story in my mother langue!
Mense langs die Pad
Lughawens,flugtaven, airports, noem dit in enige taal en
selfs die mees armste van die armes verstaan waarvan jy praat. Dis mos die plek waar jy op die vliegtuig
klim wat jou iewers heen vat.
My eerste kennismaking met lughawens was in my eerste jaar
as student. Vir die een of ander rede het ek gedink ‘n uitreik na Tanzania sal
die in ding wees om te doen. So bevind ons groepie studente onself of die
destydse Johannesburg internasionale lughawe. Ek staan sommer so oopbek en
vergaap my aan alles om my. Die boertjie van Brits het nie veel verstaan van
die dinge nie en met ‘n ligte bewe in my broek betree ons die vliegtuig. Die
eerste ding wat ek doen is om ‘n duidelike inspeksie van die toilet te gaan
maak. Wou net seker maak die ding werk regtig met vakuum. Die vlug was maar vir
my soos bus ry net minder spasie en geen stop plekke langs die pad vir ‘n ou
twakie nie. So neem die vlieg ding ons na Dar Es Salaam. Hier ontmoet ons vir
Pastoor Kuta en ons word voorgestel aan ons ryding, ‘n afgeleefde 19 voertsek Toyota
of wag was dit nou Nissan, Isuzu, ek kan nie meer so lekker onthou nie, maar
die ding was oud. Al wat ek wel onthou was dat dit warm en bedompig was. Dit
was iets uit ‘n ander planeet. Ek wat myself nie eers verwerdig het om agter op
‘n bakkie te sit in ons eie land nie sit
en kuier so lekker met die nuwe mense dat ek skoon vergeet om ‘n twakkie te
maak. En so ontmoet ek vir Dewfry my
tolk en vertroueling vir die volgende twee weke.
Die lewe loop draaie met elkeen van ons, soms die kant toe
en daai kant toe maar iewers kry jy dit reg om nuwe dinge te doen. Ek het nie
‘n baie groot liefde vir lughawens nie. My eerlike opinie is dat die goed so
ontwerp is dat travelers wat dik moeg en vet ge-jetlag is eers moet sukkel en
verdwaal voor hulle iewers kom. En daai
iewers kom druk gewoonlik my moer meter in die rooi.
Soms sit mens mos ure en wag vir ‘n konneksie vlug net om
weer te verdwaal by die volgende plek. So bevind ons onself in Singapore se
lughawe. Dis chaos. Die nag het ek nie geslaap nie, my oggies hang leep, en
alles wat kan hang, hang suid. Dis ‘n moerse terminaal. Die tydverskil is 6 ure
en ons het net 2 ure voor ons volgende vlug. My tyd wys dis twaalfuur die nag
by die huis, maar die son is al op hier waar ek sit en rook. Die een vliegtuig styg
op en die ander land. My gat is dik lam. Lanel het darem lekker geslaap so die
jetlag vang haar nie so erg nie. So sit ek saam met my Mede rook vriende en ons
kuier so in en om en sommer oor alles. Party verlang huis toe, ander hardloop
weg van die huis af. Elkeen van ons het ‘n storie. So ontmoet ek die Australiër
wat oppad is Phuket toe om te gaan Golf speel sonder sy vrou. Die Amerikaner
wat saam ons van Suid Afrika af kom oppad L.A. toe, huis toe verduidelik hy
ons. En ek kyk binne toe en vertel hulle van my weghol Phuket toe. Net om twee
weke later die selfde plek selfde tyd weer daar te sit met die selfde storie.
Die keer gaan ek huis toe. En hulle hol weg.
Duitsland. 05:30 am ons pilot het klaar sy clearance gekry
om te land op Frankfurt. Ek kyk op my tyd aanwyser en besef dat ons ‘n skrale 1
uur en 15 min het om van Terminaal A Na Terminaal C te gaan. Die aanvanklike
tyd was 3 ure, genoeg om eers so bietjie rond te dwaal en dan ook so ‘n
koffietjie te geniet, maar die een of ander mampara het gedink Lufthansa sal
hom 600 euro uitbetaal as hy laat is en dan kan hy nog verniet vlieg ook, sy
grootste berekeningsfout was dat as jy eers ingeboek het daar nie weg kom kans
is nie. Ons land amper gelyktydig saam
met ‘n ander vlug van China af en die totale chaos by die Doane is nie net iets
om oor huis toe te skryf nie dis amper iets tussen tuis voel en so klein
benoudheid. Ons word na ‘n ander Doane punt verwys wat ons nog verder wegneem
van ons opklim punt. Die Doane beampte stempel Lanel se paspoort sonder om twee
keer te kyk. Maar dis hier waar die sports begin met my. Eers bekyk en bevoel
hy my paspoort dan na my visa, hy beloer my weer. Donner man ek is nie ‘n China
man of Turk nie, my voorvaders se bloed is die selfde as joune, miskien bietjie
vermeng iewers in die kaap. Ek maak so opmerking of twee in Afrikaans sodat die
ou kan verstaan ek is nie ‘n Turk nie. My donker gebrande vel, swart hare en
donker oë dra ook nie veel by tot die situasie nie, as ek maar net gebore was met
blonde hare en blou oë, ai sou die Hitler hier voor my darem maar met gemak my
laat ingaan het in sy land. Ek loer af na my tyd tikker en sien dat die tyd
gaan min raak, ons sal moed hol. Uiteindelik besluit die Hitler dat ons sy
liewe land mag binnegaan, nou ja die wat al op Frankfurt geland het sal weet
dat daar ‘n treintjie is tussen die twee terminale. Ons mis die trein
heeltemal, dis op met die hysbak, af met die roltrap, en ek met my Oros lyfie
waggel nie ek rol amper almal uit die pad uit. Vyftien minute voor ons moet
opklim bereik ons die hek waar ons ons vlug vang Hanover toe. Ek sak amper
inmekaar van blydskap of skok, die rook area is naby, ek glip daar in en die
eerste ou wat naby genoeg is wat engels verstaan trek ek nader en beklaag my situasie.
Ons gesels te lekker. So ontmoet ek die soldaat van Florida wat oppad is Afghanistan
toe om te gaan veg vir volk en vaderland.
No comments:
Post a Comment