Die aarde vat pressies 23h 56m
en 4s om een keer om sy eie as te draai volgens vaste sterre in die hemelruim.
Ons mens het ook sulke vasgestelde punte in ons eie verwysings raamwerk,
waarmee ons ʼn vaste tyd en plek binne die samelewing kan bepaal. Ons bepaal ons
emosie, beplanning en lewens bestaan op hierdie vaste punte. Dit gebeur dat van
hierdie vaste punte, nie meer vas is nie, en ons hemelruim en polariteit
heeltemal, deur een gebeurtenis en omwenteling aangepas en verskuif word. Die
sogenaamde paradigma verskuiwing wat plaasvind.
Sondag 16 Okt. 21:30 Dit voel
soos ‘n bom wat my tref, Lanel word opgeneem in die hospitaal. 3:00am sy word
oorgeplaas na Eugene Marais, Ektopiese Swangerskap. 8:00am Sonar bevestig.
Mamma se pyn is ondraaglik en sy skreeu. 11:00 am Nood operasie. Besef vaste
punt is geskuif, mamma kon dood gewees het. Operasie suksesvol. ICU. 24 uur
sonder slaap.
Ek stap af om my senuwees te
kalmeer en om mamma se nodigste te kry vir ICU. 1x Tandeborsel, 1x Kam, 1x Tandepasta.
Dis al wat toegelaat word. Ek rook ‘n sigaret en begin in die tas krap. Ek vind
1x Tandepasta, 1x Kam, 1x Seep. 0x Tandeborsel. Krap, krap, pak klere uit,
soek, krap, krap.0x Tandeborsel. My kop klop van hoofpyn al vir die afgelope 6
ure. 0x pynpille in die tas of bakkie. Ek loop apteek toe en koop ‘n
tandeborsel en pynpille. Die dame gee vir my so bruin papier sak. Ek moet
slaap, ek kry nie geslaap nie. Ek loop op en af en klou aan die papier sakkie
asof dit my enigste uitweg en vaste punt in my lewe is. Gebed, “Here Jesus,
Walter kan nie sonder ‘n mamma groot word nie! Asb. Amen”
Ek besef dat daar net een vaste
punt op my kompas vir my oorbly, en ek sal daardie aanwysing moet gebruik, dit
sal die enigste pad deur hierdie dorsland wees, ek het die Knersvlakte bereik.
Gebed “Jesus gee my krag en rigting, as dit moet, neem my lewe en gee dit vir
Lanel as dit moet. Walter kan nie sonder ‘n mamma grootword nie! Amen” Ek volg
Sy vaste punt met my kompas en bereik die oases van vrede. Gebed “ Here Jesus u
het van beter geweet, waarom sal ek nie verstaan nie, eendag sal ek verstaan.
Amen”
Melaats
Ons is deur diep waters die
week, hierdie was ons tweede miskraam, presies ʼn jaar uitmekaar uit, ongelukkig
het die laaste een met groter risiko en gevaar vir Lanel gekom. Dis tydens
sulke tye wat jy besef wie mense werklik is, soos die Woord dit stel, in tye
van welsyn en jubel is hulle daar, maar as die wyn en sang opraak, verdwyn
hulle soos mis voor die son.
Dis asof mense ‘n vrees
ontwikkel om met jou te praat as hulle hoor jy het ‘n miskraam gehad. Dis asof
mense bang is jy gaan hulle aansteek, net soos die melaatses van ouds, jy word
eenkant geplaas en weinig het met jou kontak. Dis die grootste fout wat julle
maak, ons wil praat, ons wil ons emosies deel, heng ons gaan kaalgat hel toe en
terug. Daar is nie vir ons ‘n klein mense om afskeid van te neem nie. Ons weet
daar was klaar ‘n klein mensie, so wat moet ons maak? Tog word jy soos ‘n
melaatse behandel.
Dis die weinige en mense wat jy
nie verwag wat hulle hande uitsteek en joune neem, nie bang is om aangesteek te
word nie, en die troebelheid van jou siel kom ophelder.
Met Dank
Ek wil graag die volgende Mense
bedank vir hulle bystand en onbaatsugtige opofferings: Ons Moeders Susan
Coulter en Doreen Roos, My pa James Roos, Elmien Flemming, Charlene Vorster.
Vir die wat elke dag gebel het,
en persoonlik na Lanel en my welstand verneem het: Br. Eugene en Sarie
Steenkamp, Br. Pat en Martie Smith, Anton en Lanie Groenewald, Carika de Lange,
Elma Marais, Tiaan en Jana Dippenaar, Kobus Barnard, Riandi Roberste
Dan aan ons liefling
kind Walter. Jy het geen benul gehad van wat aangaan nie. Pappa sal jou as jy
ouer is verduidelik wat gebeur het. Dankie dat jy ons lewe kom volmaak waar
daar gate ingeruk is.