Thursday, 21 December 2017

‘n Boertjie se Travels: Agter die ystergordyn van ʼn ‘Afrikaner’ gemeenskap

5 Maart 1946 verklaar Winston Churchill dat daar ʼn ystergordyn gesak het oor die kontinent van Europa. Twee jaar later, op 28 Mei sak die ystergordyn oor die Afrikaner gemeenskap, hierdie gordyn wat ten koste van menswees deur kerk, werk en politiek in plek gehou is.

Ek het my lewensonstaan gevind aan die einde van die teoretiese bestaan van die ystergordyn. Ek is geskool met vlag en vaderland, ingebrand tot in die diepste van bors. Gekerk en gekersten het ek die dogma van die Heidelberg se Kategismus tot in my vlees geneem, in my grysstof het ek die Apostoliese geloofsbelydenis ingekerf. My siel het nogtans geswerf oor ʼn leë en woeste woestyn van donkerte en seer. Ek bely my geloof, salueer die vlag en sing uit volle bors vir volk en vaderland.

Twintig jaar na die afskaffing van die ystergordyn oor volk en vaderland staan ek met ʼn nuwe dagbreek en wonder oor die letsels wat gelaat is in beide ons gees en vlees. Ek sien hoe Mammon die nuwe jeug-van-vrede se lewens stelselmatig verteer, die een egpaar na die ander opraap en uitspoeg om te brand in die vuur van vernietiging. Ek kyk na die wit tempels van die Afrikaner, met hul afetsing teen die hemelgewelf. Ek sien die grys ou manne, gebukkend, kreun en kraak om die gewig van dogma en teologie saam te dra. Die gewig van die yster las wat geween en kners van tande in die jeug voortbring.

Die skyn van heiligheid verblind die oë van mense, ewigheidswaarde word bepaal deur rang en stam posisie. Die edele agbaarheid word gereken aan sittings op die raadgewende stoele van ouder gewoonte. As die donker nag die jeug-van-vrede se bastion omvou, die skyn van heiligheid verdof word deur die sondes van die vadere, die gedreun van donder die fondamente van belofte tot ewige trou breek, kruip die skaduwee van Mammon stadig oor die gees en breek stukkie vir stukkie die glans van goud en silwer, Rand vir Rand, af tot die waarheid van die erfsonde aan die lig gestel word.

Agter die ystergordyn van erfsondes van die vadere, sal die bastion van die Afrikaners sorg, deur die werking van die  okkultiese geloof in kerk, dat jou aansien nie bevlek word nie. Sal die skuld las van 30 silwer sikkels op die onskuldige lammers van die nuwe jeug beslaan word. Die yster hamer sal die spykers dieper in gevoelens indryf, sodat die Seuns van die Vadere op dieselfde manier die wat die nuwe dagbreek met basuin van ramshoring en dans aankondig, kan kruisig op die hoogte van menslike vermoë.

Nogtans sal niemand van buite ʼn blik kan kry na binne die huis van die vadere nie. Die glas van die huis is oortrek met simbole van vooruitstrewendheid. ʼn Huis met pilare gebou op die standvastigheid van die verskuifbare sand van gemoed en ekonomie. Agter die glas van die huis hang die gordyn wat die duisternis van die volk verbloem.

In my korte lewensbestaan as een van die volk, het die tydren my geneem oor vele kontinente. Dis hier in die vreemde, weg van die ystergordyn van volk en vaderland, dat die Lig van die Nuwe dagbreek, die sondes van die vadere verlig.